AfriForum-tak in Delareyville help Tswaing Munisipaliteit om slaggate te herstel


’n Lid van AfriForum se Delareyville-tak het besluit dat slaggate in dié dorp herstel moet word. James Kukard het die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit in hierdie verband genader en het verneem dat teer in Ottosdal beskikbaar is om die slaggate reg te maak, maar dat die munisipaliteit nie vervoer het om die teer na Delareyville te neem nie.
Kukard het gereël dat die teer gehaal word. Die munisipaliteit het werkers voorsien en 160 sakkies teer is gebruik om die slaggate in Pancroft- en Proteastraat te herstel. Omdat daar nog baie gate is, help die AfriForum-tak ook om die oorblywende gate met grond te vul.

“AfriForum bedank lede soos Kukard wat inisiatief neem om iets aan ’n benarde situasie te doen. Ek wil ’n beroep doen op lede om gevalle soos hierdie onder die AfriForum-bestuur se aandag te bring en dan saam te werk om ’n oplossing te vind. Só maak gewone mense buitengewone verskille in ons dorpe. Samewerking met munisipaliteite is belangrik, want dit bly hul plig om hierdie take te verrig, maar onbevoegde bestuur noodsaak AfriForum om ook self hand aan die ploeg te slaan,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings