|

KYK: 250 mense help om by Benoni Homestead Dam skoon te maak

AfriForum se Benoni-tak het op 1 Julie 2023 saam met ander organisasies, nooddienste, veiligheidsmaatskappye, die SAPD en die Ekurhuleni Metropolisie se berede-eenheid ’n omgewingsakedag by die Benoni Homestead Dam gehou. Nagenoeg 250 mense het Saterdag opgedaag om te help met die skoonmaak en opknap van die dam en die gebied rondom die dam.

Hierdie aktiewe AfriForum-tak het, volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, hierdie projek aangepak om bewustheid te skep oor die omgewing en om te verseker dat Benoni se openbare areas nie verder verval nie.

Bewusmaking is geskep oor besoedeling, stropery en gesondheid. Nuwe kennisgewingborde wat mense inlig oor die beskerming van die fauna en flora by dié dam, is ook opgerig. Mense wat die dag bygewoon het, het rommel opgetel, sypaadjies skoongemaak, takke gesny, die gras rondom die oewer oopgesny, asook dele van die dam skoongemaak. Meer as een ton teer is ook gebruik om die slaggate te vul.

Jane Trembath, ’n natuurbewaarder, en Denzil Lazarus van die Blue Baboons-kajakklub, het die gemeenskap toegespreek oor die belangrikheid van die dam en die bewaring van die visspesies wat daar voorkom. Nog sprekers het mense toegespreek oor fisiese en sielkundige gesondheid.

“Ons hoop dat projekte soos hierdie die gemeenskap sal inspireer om betrokke te raak en ’n verskil te maak. ’n Gemeenskap wat bymekaarkom en gemeenskapskwessies oplos en ’n kultuur van samewerking, selfdoen en respek vir hulle omgewing kweek, is ’n gemeenskap wat gerat is vir sukses,” sê Ferreira.

“Ons is ongelooflik dankbaar dat almal opgedaag het om te help en dat ons op hierdie manier bewusmaking kon doen. Heelwat mense vanuit verskeie organisasies en maatskappye het saamgewerk om van hierdie dag ’n reusesukses te maak,” sê Archie Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.

Kyk hier na ’n onderhoud met Mouyis:

Soortgelyke plasings