|

1,85 miljoen liter water en meer as 2,5 ton groente – só help AfriForum se Bethal-tak

Deur Carina Bester

“Hierdie skenking is vir ons beter as lekkernye.”

Dít was die reaksie van Hester Schwarz, personeellid van Kosmos Kinderhawe in Kriel, nadat AfriForum se Bethal-tak op 15 November ’n vrag spinasie vanuit dié tak se groentetuin by hierdie plek van veiligheid vir kinders gaan aflewer het.

Volgens Schwarz gaan hulle met hierdie spinasie omtrent twee keer etes vir die kinders en die personeel, wat sowat 100 mense is, kan maak. Die kinders wat hierdie hawe hul huis noem, is almal as gevolg van ’n hofbevel uit hul ouerhuise verwyder.

Alhoewel Kosmos Kinderhawe afhanklik is van ’n staatsubsidie, is die geld egter nie genoeg nie. Hulle ontvang ook net vir 76 van die 84 kinders ’n subsidie en hiermee moet die water en elektrisiteit-rekeninge betaal word, asook die personeel se salarisse. Dit is skenkings soos hierdie wat hulle deur ’n maand laat kom, het Schwarz gesê.

Die Bethal-tak se groentetuinprojek is in 2021 van stapel gestuur en die oeste word aan tehuise en sopkombuise in die dorp en die omliggende omgewing geskenk om die las vir hierdie plekke te help verlig. Skenkings word gereeld aan die Bethal-sopkombuis, Silwerjare Tehuis vir bejaardes, Palmoord-aftreeoord en die kinderhuise geskenk. Van die spinasie is nou ook aan Laerskool Marietjie van Niekerk gegee, wat dit dan na behoeftige gesinne versprei.

Spinasie, uie, tamaties en ook aarbeie is tans op die 0,1 ha grond op ’n erf in die dorp aangeplant en alhoewel die dorp gebuk gaan onder erge watertekorte, kan die groente danksy ’n boorgat natgelei word.

Die hoofoes van die groentetuin is spinasie en hulle het vanjaar reeds meer as 2,5 ton spinasie geoes. Hulle het ook in Maart en April vanjaar 260 kg tamaties uit die tuin aan plaaslike instansies en tehuise geskenk.

“Hierdie projek ondersteun die gemeenskap wanneer omstandighede swaar druk op hul plaas. Die Bethal-tak bly daartoe verbind om hand by te sit en ’n verskil in die gemeenskap te maak,” sê Marilé Nieuwoudt, koördineerder van AfriForum se groentetuinprojek in die dorp.

Buiten hierdie verligting wat die tak aan kwesbare inwoners bring, verlig hulle ook, danksy boere van die omgewing, die waternood wat al die inwoners van hierdie dorp gereeld ervaar.

Skole, sakeondernemings en heelwat inwoners het reeds watertenks opgerig nadat die dorp gereeld gebuk gaan onder watertekorte. Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het Bethal vanjaar vir ongeveer 120 dae nie water gehad nie.

Dit is weens die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se agterstallige skuld aan Rand Water, asook swak beplanning en die swak bestuur van waterhulpbronne tydens beplande instandhouding.

Alhoewel die dorp tydens die skryf van hierdie berig wel water gehad het, word beurtwater steeds in die dorp toegepas en is dit veral inwoners in die hoogliggende dele van die dorp wat die ergste geraak word.

Die tak het twee noodwaterpunte wat by die AC Kerk en die Gereformeerde Kerk opgerig is. Hierdie noodwaterpunte kan 25 000 liter berg en word deur boere van die omgewing van water voorsien. AfriForum se Bethal-tak koördineer hierdie waterskenkings en daar word ook seker gemaak dat die tehuise vir bejaardes en skole tydens hierdie tekorte water het.

Inwoners het vanjaar reeds 1,85 miljoen liter water vir huishoudelike gebruik by dié noodwaterpunte getap.

Hierdie miljoene liter water wat die boere op hul eie onkoste aanry na die noodwaterpunte is genoeg om net meer as agt hektaar graan vir een seisoen onder besproeiing te verbou. 1,85 miljoen liter water is ook meer as genoeg om ongeveer 400 melkkoeie vir ’n maand te onderhou.

“Ons is dankbaar dat die boere, te midde van hulle eie uitdagings, die dorp op hierdie manier ondersteun. Mense kan nie funksioneer sonder water nie en die dorp kan ook nie bekostig dat sakeondernemings hul deure permanent sluit nie,” sê Bekker.

Benewens hierdie projekte sny die tak ook gereeld gras en vul slaggate in die dorp.

“Ons kan ’n wesenlike verskil maak so lank as wat ons saamstaan en saamwerk om dit te bewerkstellig.”

Soortgelyke plasings