100de sakke vullis in Bloem laat nie dié AfriForum-buurtspan skrik nie
Die AfriForum-buurtspan in Bloemfontein het onlangs honderde sakke vullis in buurte in Bloemfontein opgetel en etlike hektaar gras in parke gesny. Dié span pak die afgelope tyd verskeie projekte aan om buurte in Bloemfontein skoon te maak. Hierdie projekte strek oor verskeie areas en sluit in die instandhouding en skoonmaak van erfenisterreine, parke en openbare ruimtes.
As deel van die buurtspan se pogings om erfenisgebiede in Bloemfontein te beskerm, het hy die tuine van die Ou Presidensie-museum, die Brits-monument en die Pres. Brand-begraafplaas skoongemaak en die gras gesny. In woonbuurte soos Rayton, Heuwelsig, Pellissier, Gardeniapark en Langenhovenpark is parke ook skoongemaak en die gras onderhou. In Langenhovenpark se Topsy Smithweg is meer as 180 sakke vullis verwyder om onwettige storting op te ruim.
Die buurtspan het ook voortgegaan om inwoners te bedien met AfriForum se vullisverwyderingsdiens. Altesaam 335 sakke vullis is verwyder en ’n oppervlak van bykans 14 hektaar is terselfdertyd skoongemaak en die gras is gesny.
“Wanneer AfriForum ruimtes skoonmaak en goed versorg, help dit om gemeenskappe te verenig en ’n trots by mense te kweek vir hul omgewing. ’n Netjiese en skoon omgewing verminder ook die risiko van onwettige storting en help waak teen die verwaarlosing van geliefde gebiede,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.
AfriForum moedig inwoners en ondernemings aan om saam te werk en by te dra tot die skoonmaak van Bloemfontein. Sluit vandag by AfriForum aan en help om Bloemfontein ’n skoner, veiliger plek vir almal te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.