|

10 Redes waarom Suid-Afrikaanse skole meer outonomie moet hê

Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, alias die Bela-wet, maak voorsiening daarvoor dat die staat meer besluitnemingsmagte oor skole moet hê. Dit beteken meer mag in die hande van politieke aanstellings.

Volgens ’n skrywe van die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, aan AfriForum op 2 Julie 2022, is dié konsepwet wat onder meer bepaal dat die finale sê oor die taal- en toelatingsbeleid van skole by die provinsiale onderwyshoofde, in plaas van by die skole se beheerliggame sal lê, noodsaaklik. Skole moet die “breë gemeenskap” dien volgens haar, en nie net die leerders, ouers en onderwyspersoneel van die dag nie. Verder probeer sy die gerusstelling gee dat uitgebreide openbare raadpleging die aanvaarding van enige beleid voorafgaan.

Die “openbare raadpleging” wat sal geld, is verder allermins gerusstellend.

In die eerste plek is die probleem dat ons land se breë gemeenskappe nie homogeen is nie, en dus nie homogene behoeftes het nie. Al die mense kan nie al die tyd tevrede gehou word nie – in die 21ste eeu is die antwoord op prestasie spesialisasie. In groot instellings wat breë gemeenskapsbehoeftes moet dien, gaan belange van minderhede soos kleiner taalgroepe, mense met behoefte aan spesialis onderrig in byvoorbeeld nuwe vakgebiede wat weens vierde nywerheidsrewolusie ontstaan, asook kinders met mediese redes waarom hulle besondere leerbehoeftes het, eenvoudig aan die kortste ent trek.

Die “openbare raadpleging” wat sal geld, is verder allermins gerusstellend. Etlike kere in die verlede was AfriForum al deel van dié soort prosesse – op instellings-, plaaslike, provinsiale en nasionale vlak, en ongeag die oorweldigende sentiment van die deelnemers is besluite deurgedruk. Dit herinner aan die storie waar die twee wolwe en die skaap vergader om te besluit wat vir middagete op die spyskaart is.

Enkele skole is eilandjies van uitnemendheid, maar swaeltjies maak nie ’n somer nie.

Waarom is AfriForum (en vele ander organisasies, meningsvormers en politieke partye) teen die konsepwet gekant? Is dit maar soos ’n kortsigtige radiokommentator verklaar het “omdat AfriForum en Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, al jare lank ’n vete teen mekaar voer”?

Nee, dit gaan daaroor dat Suid-Afrika ekonomies al verder agteruitgaan. Om hoegenaamd ’n land met vooruitsigte te wees, het ons dringend hooggeskoolde werkers nodig. Daarvoor het ons ’n uitnemende skoolstelsel nodig, maar ongelukkig is ons onderwysstelsel een van die swakstes ter wêreld. Enkele skole is eilandjies van uitnemendheid, maar swaeltjies maak nie ’n somer nie.

Hier is tien lukraak gekose en gerangskikte voorbeelde en redes wat bewys dat provinsiale onderwyshoofde nie geskik is om skole te bestuur nie:

  1. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het in 2019 al kommer uitgespreek oor die haglike algemene toestand van basiese onderwys in Suid-Afrika. Internasionale toetse wat lande se onderwysprestasies in taal, wiskunde en wetenskappe bepaal, soos TIMSS and PIRLS, bevestig die swak gehalte van onderrig in die land. Dit geld veral vir openbare skole – juis dié wat die meeste aan staatsbestuur onderworpe is.
  2. Dikwels word verwys na die 80% wanfunksionele skole in die land. Africa Check het vasgestel dat die syfer sy oorsprong by die Departement van Basiese Onderwys self het. Van die probleme wat by sodanige skole voorkom, is 20% onderwyserafwesigheid op Maandae en Vrydae, en 33% op maandeindes. Die onderwysers met hierdie kultuur is aan die provinsiale onderwysdepartemente verantwoordbaar, wat skynbaar beteken dat die gedrag verdra word.
  3. Jaarliks vier die provinsiale en nasionale departement ’n hoë matriekslaagsyfer in openbare skole, hoewel statistiek toon dat tussen 30 en 50 persent van alle kinders wat skoolloopbane in die land begin, dit nie voltooi nie.
  4. Gereeld word vermeld hoeveel skole nog puttoiletstelsels het – om net een probleem te noem. Tog toon jaarlikse finansiële verslae in provinsies dat daar onderspandering vir die verbetering van infrastruktuur is.
  5. Op 17 Julie 2019 beslis die hoër hof in Pietermaritzburg dat die onderwysdepartement van KwaZulu-Natal dringend ’n skool vir die gemeenskap van Nkungumathe moet bou, soos wat reeds meer as ’n dekade tevore onderneem is. Op 6 Julie 2022 is die skool nog steeds nie in aanbou nie. Hierdie is maar een gemeenskap wat onder verbreekte beloftes en ’n nypende tekort aan skole ly.
  6. In Eldoradopark nader ’n skool AfriForum oor ’n groep onderwysers – lede van ’n groot vakbond – wat al maande lank weier om skool te hou. Klagtes by die Gautengse onderwysdepartement het geen resultate opgelewer nie. Dit sluit aan by bevindings van die Volmink-verslag wat in 2018 vrygestel is met skokfeite oor die verkoop van poste en die voorkoms van geweld in skole aan die hand van vakbondlede. Om politieke redes is amptenare bang om enigsins op te tree op ’n wyse wat teenkanting van magtige vakbonde sal ontlok.
  7. In Januarie 2021 word onthul dat die Gautengse onderwysdepartement R400 miljoen oor drie maande aan die reiniging van skole spandeer het. Later word die bedrag R431 miljoen. Teen September 2021 beloof Lesufi dat “koppe gaan rol”, maar in geen stadium neem hy as hoof verantwoordelikheid en bedank weens die wanspandering van so ’n astronomiese bedrag nie. En het enige koppe al gerol of is enige bedrae al herwin?
  8. Lesufi loods herhaalde aanvalle teen moedertaalonderrig in enkelmedium instellings. Duidelik het hy nie die nodige kennis van die waarde van moedertaalonderrig en weet hy nie dat dit slegs volhoubaar aangebied kan word in instellings wat eentalig onderrig aanbied nie. Dit geld nie net vir Afrikaans nie, maar vir alle tale in die wêreld, veral kleiner tale wat teen groot tale soos Engels, Frans, Spaans en Arabies te staan kom. Met so ’n gebrek aan basiese kennis kan hy tog nie in ’n besluitnemingsposisie oor taalbeleide geplaas word nie – ’n posisie wat op sy kollegas in ander provinsies van toepassing mag wees.
  9. Lesufi verklaar dat skole aan kinders behoort. Reg so, maar dit beteken nie dat die staat die mondstuk van die kinders moet wees nie. Hulle gemeenskappe moet juis dit wees, want wie is meer in staat om die kinders se kultuur, unieke uitdagings en geleenthede te verstaan? Die Afrika-spreekwoord sê dit vereis ’n dorpie (“village”) om ’n kind groot te maak, nie dat daar ’n staat moet wees vir die roeping nie.
  10. In Desember 2017 het Lesufi probeer om ’n groep leerders met behoefte aan Engelse onderrig in Hoërskool Overvaal, ’n enkelmedium Afrikaanse skool te plaas. Overvaal was vol, maar twee Engelse hoërskole in die omgewing het plek vir die leerders gehad. Die hof het in Overvaal se guns beslis om die kinders te weier. In dié saak het dit geblyk dat die hoofde van die Engelse skole deur die Gautengse onderwysdepartement aan intimidasie onderwerp is om vals verklarings oor hulle leerlinggetalle te maak. Die regter het dit in sy uitspraak aangedui. In sommige gevalle knyp die provinsiale onderwysdepartement dus oë toe vir vergrype, in ander moedig dit selfs vergrype aan – solank dit die politieke en ideologiese agenda dien.

Hierdie neerdrukkende lys van voorbeelde kan nog veel langer word, maar is reeds ’n stewige bewys waarom die staat nie bevoeg is om in die beste belange van ons kinders se toekoms op te tree nie, en dus nie deur middel van die Bela-wet bewapen moet word om dit wel te kan doen nie. Ons skole moet eerder meer outonomie kry, sodat personeel aanspreeklik gehou kan word, fondse verantwoordelik en verantwoordbaar bestee kan word en kinders deur die gemeenskap gemotiveer kan word om hulle skoolloopbane te voltooi met vaardighede wat hulle indiensneembaar sal maak.

Soortgelyke plasings