|

Rioolstorting in Valsrivier moet end kry

Die rioolstorting in die Valsrivier moet onmiddellik gestaak word.

AfriForum het hierdie dringende versoek Maandag (22 Julie) in ’n brief aan die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit gerig nadat talle klagtes oor hierdie voortslepende rioolstorting ontvang is. Rou riool vloei vir bykans 20 km van die stukkende rioolpompstasies tot in die rivier in.

AfriForum het Maandag ook watermonsters in die rivier geneem en dit aan ’n onafhanklike laboratorium vir toetsing gestuur. Die uitslae is nog uitstaande.

Die rioolstorting hou nie net ernstige gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap in nie, maar veroorsaak ook erge omgewingsbesoedeling. Inwoners van Kroonstad het al massas dooie visse uit die Strydomdam verwyder wat moontlik aan die rioolstorting toegeskryf kan word.

Die burgerregteorganisasie het in April die rioolstorting in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) onder die Moqhaka-munisipaliteit se aandag gebring. Tot op hede het die munisipaliteit geen daadwerklike poging aangewend om die probleem op te los nie.

In sy brief eis AfriForum ook dat die rioolpompstasies herstel en opgegradeer word om toekomstige besoedeling te voorkom en dat die waterkwaliteit in die Valsrivier gereeld gemoniteer word.

Die Moqhaka-munisipalitet het 14 dae om op AfriForum se brief te reageer.

“Ons het verskeie klagtes van gemeenskapslede oor die walglike reuk van die besoedeling ontvang. Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie sy pligte nakom om die omgewing en die gesondheid van sy inwoners te beskerm nie,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum doen ook ’n beroep op die gemeenskap om enige verdere gevalle van besoedeling aan te meld. “Ons moet saamwerk om ons waterbronne te beskerm en te verseker dat ons ’n veilige en gesonde omgewing vir toekomstige geslagte agterlaat,” sê Johan Fourie, voorsitter van AfriForum se Kroonstad-tak.

Soortgelyke plasings