|

AfriForum maan Vaal Central Water oor beplande waterbesnoeiings

AfriForum en Vaal Central Water (VCW) kan moontlik in die hof koppe stamp omdat Vaal Central Water die watervoorsiening na Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit wil verminder vanaf 25 Julie. Dié besluit is gemaak weens die munisipaliteit se versuim om hul rekening van VCW te vereffen. AfriForum versoek dat VCW nie moet voortgaan met die beplande besnoeiings nie en dat die organisasie sal oorgaan na regstappe indien VCW nie gehoor gee aan die versoek nie.

Volgens AfriForum sal die waterbesnoeiings die inwoners en gemeenskappe van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit straf eerder as die munisipaliteit self. Die organisasie meen dat meeste verbruikers hul rekeninge getrou aan die munisipaliteit betaal, maar dat die munisipaliteit versuim om die geld aan VCW oor te betaal.

Voorts het AfriForum in ’n skrywe aan VCW ook hul misnoeë uitgespreek dat inwoners van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit nie genoegsame kennis gegee is dat hul water besnoei gaan word nie. AfriForum beklemtoon in die skrywe ook dat die betrokke wetgewing vereis dat inwoners ten minste 30 dae geskrewe kennis moet ontvang dat waterbeperkings ingestel gaan word en nie net agt dae nie.

“Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg soos voorgeskryf in Artikel 27 van die Grondwet en hierdie beplande praktyk van Vaal Central Water dreig om hierdie reg te skend. Ons kan nie toelaat dat geskille tussen staatsorgane ons gemeenskappe negatief beïnvloed nie. Munisipaliteite veroorsaak hierdie probleem as gevolg van wanbetaling, maar remedies en meganismes moet egter gebruik word om skuld in te vorder wat nie mense se grondwetlike regte skend nie. AfriForum sal al sy opsies oorweeg om te verseker dat hierdie wanpraktyk gestaak word,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

“AfriForm sal die situasie deeglik monitor om te verseker dat die gemeenskap van watervoorsien word, waarop hul geregtig is.  Ons sal aanhou veg om ‘n sterker toekoms vir ons nageslag” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum het vroeër vanjaar in ’n soortgelyke geding met Rand Water ’n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria ontvang dat die organisasie weer die hof kan nader sou Rand Water weer besluit om waterbesnoeiings in te stel weens die munisipaliteit se versuim om rekeninge te vereffen. Die organisasie meen dat hierdie kwessie met VCW neerkom op dieselfde beginsel.

Soortgelyke plasings